Uranus se ringe

Uranus se ringstelsel. Soliede lyne dui die ringe aan en stippellyne die mane se wentelbane.
Uranus met van sy ringe, in k1998 afgeneem deur die Hubble-ruimteteleskoop.

Uranus se ringe is nie so ingewikkeld soos die ringstelsels van Saturnus nie, maar ook nie so eenvoudig soos dié van Jupiter en Neptunus nie. Uranus se ringe is op 10 Maart 1977 deur James L. Elliot, Edward W. Dunham en Douglas J. Mink ontdek. Meer as 200 jaar gelede (in 1789) het William Herschel ook beweer hy het ringe gesien. Sommige moderne sterrekundiges twyfel of dit moontlik is omdat die ringe donker en dof is, terwyl ander nie so skepties is nie.[1]

Teen 1978 is nege ringe geïdentifiseer. Nog twee ringe is in 1986 ontdek op foto's wat deur die Voyager 2-ruimtetuig geneem is, en twee buitenste ringe is in 2003-'05 gevind op foto's van die Hubble-ruimteteleskoop. Die 13 ringe word genoem, in die volgorde van die planeet af: 1986U2R/ζ, 6, 5, 4, α, β, η, γ, δ, λ, ε, ν en μ. Hul radiusse wissel van sowat 38 000 km vir die 1986U2R/ζ-ring tot sowat 98 000 km vir die μ-ring. Bykomende fyn stofbane en onvolledige boë kan tussen die hoofringe voorkom. Die ringe is besonder donker en bestaan waarskynlik uit waterys en ’n mate van organiese stof.

Die meeste van Uranus se ringe is ondeurskynend en net ’n paar kilometer breed. Die deeltjies waaruit die ringe bestaan, is hoofsaaklik 0,2-20 m in deursnee. Sommige ringe is egter dunner: die breë, dowwe 1986U2R/ζ-, μ- en ν-ring bestaan uit klein stofdeeltjies, terwyl die smal, dowwe λ-ring ook groter liggame bevat.

Daar word geglo Uranus se ringe is relatief nuut, nie meer as 600 miljoen jaar oud nie. Dit het waarskynlik ontstaan uit die botsing van ’n paar mane wat eers om die planeet gewentel het. Die mane het toe in klein deeltjies opgebreek.

Die meganisme wat die smaller ringe inperk, is nie goed bekend nie. Aanvanklik is gemeen elke smal ring het twee "herdersmane" (wat materie aantrek en afstoot) wat hul vorm aan hulle gee, maar in 1986 het Voyager 2 ontdek daar bestaan net een sodanige "herderspaar": Cordelia en Ophelia rondom die helderste ring (ε).

  1. Rincon, Paul (18 April 2007). "Uranus rings 'were seen in 1700s'" (in Engels). BBC News. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 September 2019. Besoek op 23 Januarie 2012.

Developed by StudentB